5. En toe die Lam die derde seël oopbreek, het ek gehoor dat die derde lewende wese sê: “Kom!” En ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n swart perd voor my! Sy ruiter het ’n weegskaal in sy hand vasgehou.
6. Ek het toe ’n geluid soos ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: “’n Skep koring vir ’n dag se loon en drie skeppe gars vir ’n dag se loon. Moet tog nie die olyfolie en die wyn skade aandoen nie.”
7. Toe die Lam die vierde seël oopbreek, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Kom!”
8. Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n bleekgrys perd voor my! Sy ruiter se naam was die Dood, en die doderyk het vlak agter hom gevolg. Aan hom is die mag gegee om ’n kwart van die aarde se mense dood te maak deur die swaard, hongersnood, ’n dodelike epidemie en deur die wilde diere van die aarde.
9. Toe die Lam die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van hulle wat doodgemartel is oor die boodskap van God en die getuienis wat hulle gelewer het.