Openbaring 18:7-10 Die Boodskap (DB)

7. Sy het haar vreeslik belangrik gehou en ’n wilde, losbandige lewe gelei. Laat haar nou net soveel swaarkry en verdriet ly. Weet julle hoekom? Sy was die een wat vir haarself gesê het: ‘Hier sit ek, die groot heerser oor almal. Ek is nie alleen nie. Ek het baie wat agter my staan. Daar sal nooit trane van verdriet oor my wange loop nie!’

8. Ja-nee, sy het daarna gesoek! Die rampe wat haar gaan tref, gaan haar op een dag saam tref. Sy gaan baie hartseer wees, sy gaan niks hê om te eet nie en die dood gaan sy wrede greep op haar kry. Sy sal met vuur tot op die grond afgebrand word. Ja, dit alles sal gebeur, want God is die Sterke. Hy is die Here. Hy is die Een wat sê wat met die stad gaan gebeur.”

9. Die regeerders van hierdie wêreld sal bitterlik oor haar huil as hulle die wolke rook sien wat uit die brandende stad opborrel. Hulle het mos saam met die stad geleef asof God nie daar is nie. Ja, saam met haar het hulle vieslik geleef.

10. Hulle sal haar nie gaan help nie, maar net van ver af staan en kyk. Hulle is te bang hulle gaan net so swaarkry soos sy. Hulle sal net sê: “Ag, genugtig; hoe jammer! Die groot, belangrike stad; die sterk stad Babilon! Ai, kyk net; in ’n enkele oomblik het jy reguit in God se straf vasgeloop!”

Openbaring 18