6. Hy het ons deel gemaak van die mense van God, die magtigste Heerser. Nou kan ons God, wat sy Vader is, met oorgawe dien, soos priesters. Aan Jesus behoort die grootheid en krag vir ewig en altyd! Dit is vir seker.
7. “Kyk mooi, Jesus sal op die wolke kom. Elke mens op hierdie aarde sal Hom sien. Die mense wat Hom destyds doodgemaak het, sal Hom sien. Ja, daar sal nie ’n mens op aarde wees wat nie dan van spyt in trane sal uitbars omdat hulle Hom nie gedien het toe hulle nog kon nie!” Ja-nee, so sal dit wees!
8. “Ek is die Een by wie alles begin en waar alles ook eindig. Ek is tegelyk soos die A en die Z van die alfabet,” sê die Here God. Hy is nou by ons soos Hy in die verlede by ons was. Hy stap ook saam met ons die toekoms tegemoet. Niemand of niks kan naastenby vir Hom kers vashou nie, want Hy het mag en gesag oor alles.
9. Ek, Johannes, is julle geestelike broer. Soos julle kry ek ook swaar omdat ek ’n Christen is. Maar ek is ook deel van die magtige God se mense. Daarom raak die swaarkry my nie baas nie. Ek behoort mos aan Jesus. So van swaarkry gepraat, ek sit hier op die eiland Patmos omdat ek oor God se boodskap preek en mense met oortuiging van Jesus vertel.
10. Een Sondag het die Heilige Gees weer kragtig in my gewerk. Ek hoor toe ’n verskriklik harde stem agter my praat; dit was byna of iemand met ’n trompet hier naby my oor blaas om my aandag te trek.