7. Julle verstaan God nou nog nie as Hy sê: Ek soek mense wat regtig vir ander omgee. Daarin stel Ek belang en nie in allerhande godsdienstige gewoontes nie.
8. “Ek sê vir julle, die sabbat kan My nie soos ’n polisieman voorskryf wat Ek moet doen en wat nie. Ek is belangriker as die sabbat. Daarom kan Ek eerder sê wat op die sabbat gedoen mag word sodat die sabbat regtig sabbat kan wees.”
9. Jesus is van daar af na die bymekaarkomplek van die Jode.
10. In die sinagoge was daar ’n gebreklike man wie se hand heeltemal inmekaargetrek was. Die Jode het geweet dat Jesus graag sulke mense help en het hier ’n kans gesien om Hom in die moeilikheid te bring. As Hy hierdie man op die sabbat sou help, sou hulle Hom mos daarvan kon aankla dat Hy God se wet breek. Om Hom uit te lok vra hulle toe: “Sou jy sê dat ’n mens op die sabbat so ’n persoon gesond mag maak?”
11. Maar Jesus het dwarsdeur hulle plannetjies gesien. “Sê nou ’n man het net een skaap. Op die sabbat val daardie skaap in ’n diep gat en bly daar lê, hulpeloos. Wie sal nie sy skaap probeer beetkry en uit die gat help nie? Natuurlik sal julle almal dit doen, nie waar nie?