15. In watter rigting die Israeliete ook al gaan veg het, die Here het hulle teëgestaan. Dit is wat Hy voorheen vir hulle met 'n eed bevestig het. Die Israeliete het baie swaar gekry.
16. Maar die Here het leiers na vore laat kom en dié het die volk gered uit die mag van die mense deur wie hulle beroof is.
17. Die volk het ook nie na hulle leiers geluister nie. Die volk was ontrou aan die Here en het ander gode aanbid en baie gou die pad van hulle voorvaders verlaat en ongehoorsaam geword aan die gebooie van die Here.
18. Wanneer die Here vir hulle leiers na vore laat kom het, was Hy by die leiers en so het Hy die volk gered uit die mag van hulle vyande. So was dit so lank as die leier geleef het, want die Here het medelye gehad met sy volk wanneer hulle om hulp geroep het oor hulle vyande deur wie hulle verdruk is.
19. Maar na die leier se dood het hulle nog erger as hulle voorvaders gehandel en ander gode aangehang en gedien en aanbid. Hulle het nie hulle verkeerde dade en hulle hardkoppigheid laat vaar nie.