10. Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.
11. Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”
12. Die Leviete het al die mense gekalmeer met die woorde: “Wees rustig. Dit is 'n gewyde dag, moenie bedroef wees nie.”
13. Die hele gemeente het toe gaan eet, lekkernye uitgedeel en groot feesgevier. Hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is.
14. Die volgende dag het die familiehoofde van die hele gemeente en die priesters en Leviete by Esra die skrifgeleerde bymekaargekom om die inhoud van die wet te bestudeer.
15. Hulle vind toe in die wet geskrywe dat die Here deur Moses opdrag gegee het dat die Israeliete in hutte moet woon vir die duur van die fees in die sewende maand,
16. en dat hulle die oproep moet maak en dit in al die stede en in Jerusalem moet laat afkondig: “Gaan na die berge toe en bring olyftakke, olientakke, mirtetakke, palmtakke, takke met digte blare om hutte te maak soos dit voorgeskryf is.”