Matteus 2:5-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur 'n profeet geskrywe:

6. “En jy, Betlehem, gebied van Juda,jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees.”

7. Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het.

8. Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9. Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was.

10. Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly.

11. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.

12. En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Matteus 2