12. Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees.
13. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het sodat julle nie meer sy slawe hoef te wees nie. Ek het die juk wat julle moes dra, gebreek en julle vry gemaak.
14. “As julle egter nie na My luister nie en nie alles doen wat Ek julle beveel het nie,
15. as julle my voorskrifte en bepalings verwerp en met minagting behandel, sodat julle nie my bevele nakom nie en my verbond verbreek,
16. sal Ek die volgende doen: Ek sal julle lewens vol angs maak. Julle sal geteister word deur tering en koors, siektes wat 'n mens blind maak en jou laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs saai, want julle vyande sal julle oeste opeet.